bio

Wie is Deon Meiring?

 

Op hoërskool in die Oos-Kaapse dorpie, Humansdorp, stig Deon Meiring en twee van sy vriende ’n band, Glaskas. Hulle skryf in vir ’n kompetisie en wen nie, maar dring darem deur tot die finaal. Deon hou aan liedjies skryf en Glaskas hou aan speel – meestal in sy ma-hulle se garage, maar ook soms voor ander kunstenaars wat in Jeffreysbaai, so tien minute van Humansdorp af, kom optree. Na een so optrede by ’n Jan Blohm vertoning stel Blohm vir Glaskas aan ’n goeie ateljee voor om hulle eerste album op te neem. Hulle maak ook hulle eerste musiekvideo, Verloor Myself, en stuur dit vir die destydse musiekkanaal MK. Die video is uiteindelik vir 13 weke nommer een op ’n program waar kykers kan stem vir hulle gunsteling video. Deon se bure is dankbaar hieroor aangesien Glaskas toe minder in die garage en meer op verhoë regoor die land begin speel.

Op universiteit raak Deon bevriend met Bouwer Bosch en hulle stig saam die akoestiese duo Dans Dans Lisa. Beide Glaskas en Dans Dans Lisa bied vir Deon uiteenlopende platforms vir die liedjies wat hy skryf, maar steeds is daar van sy musiek wat nie noodwendig by een van hierdie projekte pas nie.

So begin hy ’n projek, Die Slaapkamer Sessies, waar hy vir 10 weke lank elke week ’n liedjie skryf, dit in ’n slaapkamer op video vasvang en op YouTube met die wêreld deel.

Vyf van hierdie liedjies word uiteindelik deel van Deon se debuut EP. Die liedjie Vingerafdrukke word ook deel van die klankbaan van die film, Strikdas.

Deon voltooi intussen ’n Mphil in Toegepaste Teologie en werk vir twee jaar vir ’n gemeente in Johannesburg, maar hou nog altyd aan liedjies skryf en optree.

Van sy gedigte word ook ingesluit in ’n bundel vir tieners, Sterkykers, saam met die werk van mense wat hy bewonder soos Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer, Koos Kombuis, Danie du Toit en Annie Klopper. Die bundel is saamgestel deur Jaco Jacobs.

In nog ’n YouTube projek deur die loop van 2018 skryf Deon maandeliks ’n liedjie en deel dit dan aan die einde van die maand in ’n video. Hy noem die projek “Maandeinde” en sinspeel daarop dat hy as liedjieskrywer nie noodwendig ’n maandelikse salaris verdien nie, maar dat dit hom nie moet keer om aan te hou skryf nie. Hy het andersins ook ’n paar enkelsnitte uit op amptelike platforms: Die liedjies “Ek weet net nie”,  “Naby jou wees” en “Bliksoldaat”.

Einde 2019 stel Deon ’n EP bekend getiteld “Hier by ons” met liedjies wat iets van die Kersverhaal in ’n Suid-Afrikaanse konteks en in vandag se tyd weerspieël.

Deon se nuutste EP word op 16 Oktober 2020 bekendgestel en bevat nuwe weergawes van liedjies van sy Maandeinde projek asook ander musiek wat te hoor is in die klankbaan van die kykNET reeks, Kompleks. Die liedjie, Grensbewoner, ook die titel van die EP, is ook die temamusiek van die reeks. Die reeks sluit ook van Koos Kombuis se musiek in en het vir Deon die geleentheid gegee om saam met Kombuis te werk. ‘n Lied wat hulle saam doen is ook deel van die Grensbewoner EP.

Glaskas het vier albums uit, maar het nog steeds niks gewen nie. Dit maak nie saak nie, want hulle is nogtans bly daar is mense wat darem hou van wat hulle doen en hulle ondersteun. Dans Dans Lisa het twee albums en ’n EP uit. Buiten Grensbewoner het Deon twee EPs asook ’n paar enkelsnitte uit.

Deon skryf ook weekliks ’n brief wat hy in die vorm van ’n video op sy sosiale media deel. Dis makliker as om dit vir almal te pos, want Deon het nie almal se adresse en poskodes nie. Hy weet ook nie altyd vir wie die briewe geskryf is nie. Dikwels kom hy agter dit was eintlik vir homself. Deon hou aan liedjies skryf en optree met al sy projekte en op sy eie.