Deon Meiring

Eerstens wil ek net vir al my voormalige rugbyafrigters laat weet: Ek het uiteindelik hierdie afgelope naweek op Loftus gespeel. Of dis waarop my Instagram Reel en TikTok persona aanspraak maak. Die feit van die saak is – ons was nie heeltemal óp die veld nie. Dit was ook nie rugby nie. Dit was Spoegwolf se Ruiters van die Kaap by Loftus Park en dit was lieflik. Selfs al het niemand “Liefling” gesing nie. Dis ‘n gig wat in Desember moes gebeur, maar dit het toe saamgeval met die vroeë onsekerheid van ‘n nuwe variant en moes oorstaan tot Februarie. Daai tyd sou dit dalk reën. Dit het toe wel so bietjie gereën Saterdag ook. Ek dink dit was terwyl Loufi gespeel het, wat snaaks is, want dis juis in daai tyd dat my wit skoene vuil geraak het.

My skoene ná Saterdag se gig.

Pretoria is vol groen wat die beton wil geheim hou onder die groot wolke. As jy nog nie agtergekom het dat Pretoria mooi is nie – gaan in die somer soontoe. Die volgende oggend op pad lughawe toe is ek hartseer. Deels omdat ek verlang na al my vriende in Pretoria wat ek te min sien. Sien enigiemand ooit hulle vriende wat ver bly genoeg? Ook omdat dit voel asof ek wegry van so ‘n mooi dag af. Ek wou die Uber trip edit om terug te ry tot by die gig wat verby is, maar dis nie hoe Uber werk nie.

Voor die gig sê Danie sy pa het in die wynbedryf geleer: “To sell one bottle of wine is a miracle,” om ons te herinner hoe ondenkbaar dit is. Ons klim op die verhoog en maak musiek vir mense wat lief is vir musiek. Ek kon nie ‘n behoorlike foto met my foon kry nie, maar ek wil dankie sê. Dit was mooi.