Woensdagaand kla Zinelda oor sooibrand. Dit terwyl ek vrywillig ’n salami stick met brandsous sit en eet dat my oë traan en my neus loop. Ek is nie een van daai mense wat hou van brandkos omdat ek dink dit wys hoe sterk ek is nie. Ek weet dis nie so groot prestasie nie. Boonop maak brandsous my ook seer. As ek dieselfde sensasie wat ’n rissie veroorsaak moes voel sonder om te weet waar dit vandaan kom sou ek skrik. Dalk selfs ’n dokter bel. Maar as ek ’n rissie eet en weet dit gaan my brand en na ’n rukkie ophou – dan’s dit lekker. Dit was natuurlik nie altyd so vir my nie.

Die eerste keer toe ek ’n rissie geëet het was ek nog klein. Dit was in vriende se tuin. Ek is uitgedaag om net ’n piepklein happie van ‘n rooi brandrissie te vat. “Hoe erg kan dit nou wees?” het ek gedink. Eers het niks gebeur nie en daarna het ek gedink die brand gaan nooit ophou nie, maar dit het. Wat ek nie meer kan onthou nie is die tweede keer toe ek ’n rissie geëet het. Ná so slegte eerste ervaring, wat het my weer laat probeer? Dalk is dit sleg om jou kop twee keer te stamp, maar om jou mond twee keer te brand? As dit met ’n rissie is kan ek dit eintlik aanbeveel.

C.J. Langenhoven het gesê dat min mense te veel sou drink as die hoofpyn in die prop van die bottel gesit het. Met rissies is dit presies hoe dit is. ’n Rissie is pyn voor plesier. Nogtans, as ek eers begin rissies eet, sukkel ek om op te hou. My ervaring is dat die pyn van ’n rissie uiteindelik deel word van die plesier. Al wat ek nou nog moet uitwerk is hoe om die pyn van alles waarna ek opsien te vervleg met die plesier wat ek kry om dit af te handel. C.J. Langenhoven het ook gesê: “Al wat die las makeer, is dat hy nie ’n lus is nie”.

Ek het eenkeer in ’n restaurant ’n pizza met rissies bestel en toe vir een of ander rede het dit so erg gebrand dat ek onbedaarlik begin lag het. Tog het ek nie gevrees vir my lewe nie, want ek het geweet dit vóél meer soos brand as wat ek regtig brand. Jy sou dalk dink my mond moes rou wees daarna, maar dit was nie. Die grootste skade was Zinelda en my vriende wat hulle vir my geskaam het toe ek huilend van die lag vir die kelner vir ’n glas melk moes vra. Huiswerk en admin is dieselfde. Dit maak jou nie regtig seer nie, maar dit voel so. Tog het ek nog nooit onbedaarlik gelag van huiswerk of admin doen nie. As iemand my kan help om dit reg te kry sal ek opreg dankbaar wees.

Intussen moet ek dalk maar daai bekende gebed van Reinhold Niebuhr bietjie aanpas:

Gee my die moed om vas te byt deur die pyn voor die plesier, die kalmte om die vervelige pyn te verduur en die wysheid om te weet watter pyn die moeite werd is.