Ek en Zinelda moes nou die dag weer ’n draai maak by Binnelandse Sake. Ek weet die meeste mense hou nie van rye en vorms nie. Party mense word moedeloos, ander kwaad. Stef Bos het selfs ’n roerende liedjie oor die plek. Sommige hoop hulle kan indruk. Ander wil betaal om in te druk. Vir my is dit vrees. Veral omdat ek bang is ek doen iets verkeerd. Dalk vul ek my vorm verkeerd in en kry per ongeluk ’n nuwe beroep. Een met Excel spreadsheets. Of netnou staan ek in die verkeerde ry, kom uiteindelik voor, maar alhoewel ek net ’n nuwe paspoort wou hê trou ek per ongeluk met die persoon agter my. Of dalk maak hulle ’n tikfout met my geboortedatum, verander my ouderdom en dan moet ek teruggaan na my moeilikste skooljaar. Ek dink dit was Gr.4, want toe kon ek skielik vir middelafstand items inskryf in atletiek en ek het nie geweet dit vereis dat jy vooraf moet oefen ook nie. Dit was veral sleg omdat almal anders dit wel geweet het en daarom nie ingeskryf het nie. Toe gaan ek deur na die streeksbyeenkoms. Nie op grond van prestasie nie. Ek was letterlik out of my league.

Hierdie goed laat my besef hoe Binnelandse Sake baie van die abstrakte vrae in die lewe sommerso konkreet maak. Daar’s ‘n toonbank met twee rekenaars en ’n bordjie wat sê “Births, Marriages & Death.” Wat ’n opsomming. In die ry word jy op ’n stadium net ’n nommer, maar eers nadat jy vir lank onsigbaar voel en wonder of enigiemand weet jy’s hier. Niemand neem selfies by Binnelandse Sake nie. Ten minste nie wanneer ek daar kom nie. By die fotohoekie is daar niemand wat vir jou tot drie tel om seker te maak jou oë is oop nie. Dis amper net so verbouererend soos ’n eerste soen. Sodra ek uiteindelik voor in die ry is, vat die rekenaar baie lank om my op te spoor. Wat beteken dit as ek nie daar is nie? Is ek dan nog hier? My bestaan is vir ’n paar oomblikke oorgelewer aan iemand wat nounet van hulle teetyd af terug is se wysvinger en ‘n backspace knoppie. Binnelandse Sake herinner my dat ek maar net ’n stukkie garing in die immerwewende kosmiese kwilt is.

Eers nadat ek dit alles oorleef, skryf Seth Godin ’n blog oor my krisis. Hy verwys na Neil Postman se waarneming dat burokrasie, soos vorms, ontwerp is sodat jy net die inligting kan gee wat hulle wil hê. Hulle soek nie paragrawe oor wie ek is nie. Net my volle name en van en so aan. Dit help om dit te weet, maar nogtans. Hier’s ’n paar paragrawe wat bietjie wyer strek as wat die vorm wou toelaat. Ek wou dit darem net met iemand deel.