Tussen onsekerheid en oorversekerdheid
syfers sonder simpatie
comment section kruistogte
koorspistole en vorms
wat gedurig vra
of ek snaaks voel
is dit dikwels psalms
wat my weer soos ’n mens laat voel.

Ek wonder hoe iemand wat duisende jare gelede ’n psalm geskryf het kon weet hoe klein hulle is. Nietigheid is nie ’n nuwe ontdekking nie. Soos in hierdie stukkie uit Psalm 8:

As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het –
wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?
(Psalm 8:4-5)


Sonder teleskope of navorsing oor hoe groot ons heelal moontlik is, was dit al moontlik om klein te voel. Selfs sonder duikbote en dokumentêre met waterdigte kameras diep onder die see was daar nog steeds ’n verbeelding oor:

die visse van die see wat trek deur die paaie van die see.
(Psalm 8:9)

Kieme voel nou so bekend, maar dit was nie altyd so nie. Verskeie wetenskaplikes moes eers die kiemteorie ontwikkel sodat ons vandag kan dink aan kieme.

Nog nuwer as kiemteorie is mikroplastiek. Plastiek wat afbreek en verweer tot dit soos sandkorreltjies oral vassteek. Onder andere ook in sand. Dis nie oral omdat dit so groot is nie. Dis oral omdat dit so klein is.

Party mense het al geskat dat al die insekte op aarde saam aansienlik meer weeg as al die mense saam. Presies hoeveel is die moeilike ding om te bepaal. Dis maklik genoeg om ’n paar insekte te weeg. Die moeilike ding is om te weet hoeveel van hulle daar regtig is. Hulle is ontelbaar baie, want hulle is klein.

Op laerskool het ek my eerste band begin. Ons naam was Plankton. Dis omdat ek dit altyd verpes het as mense gesê het: “Small things amuse small minds”. Plankton was vir my ’n uitbeelding van die teenoorgestelde. Dat genoeg plankton saam iets so groot soos ’n walvis aan die lewe kan hou is ’n bewys dat klein goed nie gering geskat moet word nie.

As iets weglaatbaar klein voel is dit maklik om dit buite berekening te hou. Dit kos ’n verbeelding om aan iets onsigbaar te dink. Baie keer maak dit eers na ’n paar optelsomme sin. Dis hoekom wiskunde waardevol is, en iets soos psalms om te help met verbeelding:

die heelal is ‘n onweetbare see
waarin al die sterre blink
en ek
kleiner as ’n korreltjie mikroplastiek
ek is nie eens plankton nie
ek maak nie die hemel om my
vol suurstof nie
ek versadig nie enige walvis nie
maar soms sluk alles my in
’n Jona-agtige ervaring
nietemin
die Here kan my dink
ek is nie vergete nie
nie net ’n agterkopgedagte nie
die nag
speel ‘n Stevie Ray Vaughan solo
op ‘n stukkende stratocaster
tussen die Suiderkruis 
en die Steenbokskeerkring
en ek
word toegelaat
om uit die stof
saam te sing