Nuwe website, nuwe songs, nuwe planne

Nuwe website, nuwe songs, nuwe planne

Uiteindelik het ek weer ‘n website. Vir my eerste blog kan ek dalk sommer net gou ‘n paar vinnige goed noem wat op pad is:

Ek, Jako Meyer en Almero beplan om saam te toer in Desember. Ek sal binnekort die datums hierop sit.

Daar is ook uitendelik nuwe musiek op pad. Ek het nou die dag weer tyd saam met Johan Viljoen in studio spandeer en ek’s baie opgewonde om so stelselmatig die nuwe liedjies met julle te deel.

Ek hoop ons loop mekaar binnekort by ‘n gig raak!

Plankton en Psalms

Plankton en Psalms

Tussen onsekerheid en oorversekerdheid
syfers sonder simpatie
comment section kruistogte
koorspistole en vorms
wat gedurig vra
of ek snaaks voel
is dit dikwels psalms
wat my weer soos ’n mens laat voel.

Ek wonder hoe iemand wat duisende jare gelede ’n psalm geskryf het kon weet hoe klein hulle is. Nietigheid is nie ’n nuwe ontdekking nie. Soos in hierdie stukkie uit Psalm 8:

As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het –
wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?
(Psalm 8:4-5)


Sonder teleskope of navorsing oor hoe groot ons heelal moontlik is, was dit al moontlik om klein te voel. Selfs sonder duikbote en dokumentêre met waterdigte kameras diep onder die see was daar nog steeds ’n verbeelding oor:

die visse van die see wat trek deur die paaie van die see.
(Psalm 8:9)

Kieme voel nou so bekend, maar dit was nie altyd so nie. Verskeie wetenskaplikes moes eers die kiemteorie ontwikkel sodat ons vandag kan dink aan kieme.

Nog nuwer as kiemteorie is mikroplastiek. Plastiek wat afbreek en verweer tot dit soos sandkorreltjies oral vassteek. Onder andere ook in sand. Dis nie oral omdat dit so groot is nie. Dis oral omdat dit so klein is.

Party mense het al geskat dat al die insekte op aarde saam aansienlik meer weeg as al die mense saam. Presies hoeveel is die moeilike ding om te bepaal. Dis maklik genoeg om ’n paar insekte te weeg. Die moeilike ding is om te weet hoeveel van hulle daar regtig is. Hulle is ontelbaar baie, want hulle is klein.

Op laerskool het ek my eerste band begin. Ons naam was Plankton. Dis omdat ek dit altyd verpes het as mense gesê het: “Small things amuse small minds”. Plankton was vir my ’n uitbeelding van die teenoorgestelde. Dat genoeg plankton saam iets so groot soos ’n walvis aan die lewe kan hou is ’n bewys dat klein goed nie gering geskat moet word nie.

As iets weglaatbaar klein voel is dit maklik om dit buite berekening te hou. Dit kos ’n verbeelding om aan iets onsigbaar te dink. Baie keer maak dit eers na ’n paar optelsomme sin. Dis hoekom wiskunde waardevol is, en iets soos psalms om te help met verbeelding:

die heelal is ‘n onweetbare see
waarin al die sterre blink
en ek
kleiner as ’n korreltjie mikroplastiek
ek is nie eens plankton nie
ek maak nie die hemel om my
vol suurstof nie
ek versadig nie enige walvis nie
maar soms sluk alles my in
’n Jona-agtige ervaring
nietemin
die Here kan my dink
ek is nie vergete nie
nie net ’n agterkopgedagte nie
die nag
speel ‘n Stevie Ray Vaughan solo
op ‘n stukkende stratocaster
tussen die Suiderkruis 
en die Steenbokskeerkring
en ek
word toegelaat
om uit die stof
saam te sing

Paragrawe uit my hoek van die kosmiese kwilt

Paragrawe uit my hoek van die kosmiese kwilt

Ek en Zinelda moes nou die dag weer ’n draai maak by Binnelandse Sake. Ek weet die meeste mense hou nie van rye en vorms nie. Party mense word moedeloos, ander kwaad. Stef Bos het selfs ’n roerende liedjie oor die plek. Sommige hoop hulle kan indruk. Ander wil betaal om in te druk. Vir my is dit vrees. Veral omdat ek bang is ek doen iets verkeerd. Dalk vul ek my vorm verkeerd in en kry per ongeluk ’n nuwe beroep. Een met Excel spreadsheets. Of netnou staan ek in die verkeerde ry, kom uiteindelik voor, maar alhoewel ek net ’n nuwe paspoort wou hê trou ek per ongeluk met die persoon agter my. Of dalk maak hulle ’n tikfout met my geboortedatum, verander my ouderdom en dan moet ek teruggaan na my moeilikste skooljaar. Ek dink dit was Gr.4, want toe kon ek skielik vir middelafstand items inskryf in atletiek en ek het nie geweet dit vereis dat jy vooraf moet oefen ook nie. Dit was veral sleg omdat almal anders dit wel geweet het en daarom nie ingeskryf het nie. Toe gaan ek deur na die streeksbyeenkoms. Nie op grond van prestasie nie. Ek was letterlik out of my league.

Hierdie goed laat my besef hoe Binnelandse Sake baie van die abstrakte vrae in die lewe sommerso konkreet maak. Daar’s ‘n toonbank met twee rekenaars en ’n bordjie wat sê “Births, Marriages & Death.” Wat ’n opsomming. In die ry word jy op ’n stadium net ’n nommer, maar eers nadat jy vir lank onsigbaar voel en wonder of enigiemand weet jy’s hier. Niemand neem selfies by Binnelandse Sake nie. Ten minste nie wanneer ek daar kom nie. By die fotohoekie is daar niemand wat vir jou tot drie tel om seker te maak jou oë is oop nie. Dis amper net so verbouererend soos ’n eerste soen. Sodra ek uiteindelik voor in die ry is, vat die rekenaar baie lank om my op te spoor. Wat beteken dit as ek nie daar is nie? Is ek dan nog hier? My bestaan is vir ’n paar oomblikke oorgelewer aan iemand wat nounet van hulle teetyd af terug is se wysvinger en ‘n backspace knoppie. Binnelandse Sake herinner my dat ek maar net ’n stukkie garing in die immerwewende kosmiese kwilt is.

Eers nadat ek dit alles oorleef, skryf Seth Godin ’n blog oor my krisis. Hy verwys na Neil Postman se waarneming dat burokrasie, soos vorms, ontwerp is sodat jy net die inligting kan gee wat hulle wil hê. Hulle soek nie paragrawe oor wie ek is nie. Net my volle name en van en so aan. Dit help om dit te weet, maar nogtans. Hier’s ’n paar paragrawe wat bietjie wyer strek as wat die vorm wou toelaat. Ek wou dit darem net met iemand deel.

Algoritmes in lieflike plekke

Algoritmes in lieflike plekke

Hier is iets vreemd, maar goed die laaste ruk in my lewe:

Ek het al baie keer voor die TV gesit met my aandete op my skoot en dan kom daar ’n advertensie op van wat ek eintlik wil hê. Dis altyd iets wat ek net by ’n drive-thru kan kry. Dit voel die laaste ruk anders. Ek sien net advertensies van goed wat ek reeds het. Ek vermoed die boodskap wat ek moet kry is: ek het wat ek wil hê. As ek nou nog ’n TV met advertensiebreuke gehad het sou daar waarskynlik net advertensies van snytjies toast met botter op gewees het. Sou ek op die koop en verkoop groepe soek sien ek net karre wat presies soos myne lyk met net so baie kilo’s op. Die musikante verkoop net kitare wat eintlik soos myne klink. Influencers kan my nie eens vang nie. Hulle smeer eenvoudig goed aan my af soos die tweedehandse boeke wat klaar my rakke vol staan. Ek weet nie hoe lank dit gaan hou nie, maar vir nou kan ek maar net saam met die Psalmdigter sê:

Die algoritmes het vir my in lieflike plekke geval. Dit wat ek het, is vir my mooi.

Watter pyn

Watter pyn

Woensdagaand kla Zinelda oor sooibrand. Dit terwyl ek vrywillig ’n salami stick met brandsous sit en eet dat my oë traan en my neus loop. Ek is nie een van daai mense wat hou van brandkos omdat ek dink dit wys hoe sterk ek is nie. Ek weet dis nie so groot prestasie nie. Boonop maak brandsous my ook seer. As ek dieselfde sensasie wat ’n rissie veroorsaak moes voel sonder om te weet waar dit vandaan kom sou ek skrik. Dalk selfs ’n dokter bel. Maar as ek ’n rissie eet en weet dit gaan my brand en na ’n rukkie ophou – dan’s dit lekker. Dit was natuurlik nie altyd so vir my nie.

Die eerste keer toe ek ’n rissie geëet het was ek nog klein. Dit was in vriende se tuin. Ek is uitgedaag om net ’n piepklein happie van ‘n rooi brandrissie te vat. “Hoe erg kan dit nou wees?” het ek gedink. Eers het niks gebeur nie en daarna het ek gedink die brand gaan nooit ophou nie, maar dit het. Wat ek nie meer kan onthou nie is die tweede keer toe ek ’n rissie geëet het. Ná so slegte eerste ervaring, wat het my weer laat probeer? Dalk is dit sleg om jou kop twee keer te stamp, maar om jou mond twee keer te brand? As dit met ’n rissie is kan ek dit eintlik aanbeveel.

C.J. Langenhoven het gesê dat min mense te veel sou drink as die hoofpyn in die prop van die bottel gesit het. Met rissies is dit presies hoe dit is. ’n Rissie is pyn voor plesier. Nogtans, as ek eers begin rissies eet, sukkel ek om op te hou. My ervaring is dat die pyn van ’n rissie uiteindelik deel word van die plesier. Al wat ek nou nog moet uitwerk is hoe om die pyn van alles waarna ek opsien te vervleg met die plesier wat ek kry om dit af te handel. C.J. Langenhoven het ook gesê: “Al wat die las makeer, is dat hy nie ’n lus is nie”.

Ek het eenkeer in ’n restaurant ’n pizza met rissies bestel en toe vir een of ander rede het dit so erg gebrand dat ek onbedaarlik begin lag het. Tog het ek nie gevrees vir my lewe nie, want ek het geweet dit vóél meer soos brand as wat ek regtig brand. Jy sou dalk dink my mond moes rou wees daarna, maar dit was nie. Die grootste skade was Zinelda en my vriende wat hulle vir my geskaam het toe ek huilend van die lag vir die kelner vir ’n glas melk moes vra. Huiswerk en admin is dieselfde. Dit maak jou nie regtig seer nie, maar dit voel so. Tog het ek nog nooit onbedaarlik gelag van huiswerk of admin doen nie. As iemand my kan help om dit reg te kry sal ek opreg dankbaar wees.

Intussen moet ek dalk maar daai bekende gebed van Reinhold Niebuhr bietjie aanpas:

Gee my die moed om vas te byt deur die pyn voor die plesier, die kalmte om die vervelige pyn te verduur en die wysheid om te weet watter pyn die moeite werd is.